Marilé Cloete woon in die Paarl en het betreklik laat in haar lewe begin skryf. Nou maak sy die leë nes met haar stories vol. Dit gee vir haar nuwe energie, ’n heerlike uitdaging en baie vervulling.
Cassandra gaan toer teen haar beterwete saam met Essie en Henk en die onuitstaanbare Francois deur die Karoo. Toe sy hoor haar sus en swaer wil haar en die onmoontlik aantreklike Francois afpaar, sien sy rooi. Sy soek immers nie ’n man nie.
Maar Francois, wat haar rustige ekwilibrium kort voor lank opfoeter, gee buitengewoon baie om vir sy ou hond, Lea, en begin so om die ys rondom Cassie se hart te smelt.
Van ’n verhouding en verdere kontak is daar hoegenaamd geen sprake nie. Maar Lea se opvolgbesoek lê voor ... Die ding is net, sal Cassie kans sien om ietwat oneties in haar eie spreekkamer op te tree?