Ciska Luckhoff, ’n joernalis by Dagblad, se lewe verander handomkeer wanneer
beide haar ouers kort na mekaar sterf en haar geliefde, Liam, gediagnoseer
word met ’n lewensbedreigende siekte. Gedurende hierdie tyd neem sy
onbetaalde verlof om as voltydse versorger en broodwinner op te tree met
haar deeltydse werk as manuskripontleder en skrywer.
Haar omstandighede dreig egter om haar onder te kry en sy nader haar ma
se sielkundige, Isobelle Verwey. Isobelle staan Ciska nie net by gedurende
hierdie traumatiese tyd nie, maar word ook ’n hegte vriendin.
’n Bejaarde kunstenaar, Francina Bernardi, nader Ciska om haar memoires
te skryf en Isobella moedig haar aan om die aanbod te aanvaar. Opsoek na
’n nuwe begin en begrip vir God se plan vir haar lewe, gryp Ciska die geleentheid
aan. Sy vertrek na Casalina, die drietoringhuis naby Knysna, waar sy
deel van die Bernardi-familie se huishouding raak. Sy vind inspirasie in die
intrige van die muurskilderye, waarin die kunstenaar met taferele daarop
haar en haar man se lewensgeskiedenis verbeeld.
Maar die teenwoordigheid van ’n aantreklike Bernardi-nasaat verwar haar
omdat sy nie weet hoe om haar verlede af te sluit óf wat om met haar nuwe
gevoelens te maak nie. Tydens Kerstyd by Casalina ontvou ’n verhaal wat die
verlede en hede se geheime ontrafel. Ciska moet vrede maak met ’n skokkende
ontdekking sodat die dogters van Casalina uiteindelik in ’n sirkel van
genade kan terugkeer.