Isabella voel nie soos die tradisionele beeldskone heldin wat jy op ’n silwerskerm
gaan raaksien nie, want sy is ietwat sag om die kante en haar
hare het ’n onbuigbare wil van hul eie. Sy besluit die tyd het aangebreek vir
opwinding en avontuur, want sy wil nie meer stry teen die knaende
begeerte in haar om skaamteloos aan die ontvangkant van ’n man se hartstogtelike
liefde te wees nie.
Sy vlug uit die stad om van haar oorbeskermende ouers weg te kom en
asem te skep in die oop ruimtes waar niemand vir haar voorskryf wat om
te doen nie. Isabella soek ’n man wat haar voete onder haar gaan uitslaan
en sy is vasbeslote om hom te kry. Iemand wat haar gaan liefhê vir wie sy
in al haar volrondheid is. Tydens haar soektog ontmoet sy ’n hele paar
mans wat nou nie almal eintlik as goeie mans met suiwer intensies beskou
kan word nie. En wie is die geheimsinnige man wat oral onverwags opduik
en pal op haar spoor bly?
Maar toe gebeur die ondenkbare tydens ’n gesinskrisis wat opduik. Al
die geraamtes wat uit die kas begin tuimel dwing Isabella om tot stilstand
te kom en die waarheid in die oë te staar. Sommige antwoorde kan ’n vrou
net op haar knieë by die Here kry. Hulle sê die waarheid maak vry en die
liefde bedek ’n menigte van sondes. Miskien sal die kronkelpaaie van Isabella
se lewe haar ook na liefde en vryheid lei sodat selfs ’n verlore
woestynblom soos sy kan blom.