“Hy voel hoe haar klein hande soekend onder sy hemp probeer inkruip. Hy staan net ’n aks van haar af terug en trek sy hemp met een beweging oor sy kop voor hy haar weer tot styf teen hom aantrek en hy weer haar mond opsoek. Haar knieë knak liggies en hy trek haar stywer teen hom om haar te steun. So deur die soen du hy haar terug na die groot bed toe. Haar oë rek groot toe hy haar optel en op die bed neersit. “Ek sal niks doen wat jou ongemaklik maak nie. Ek belowe. As my hande te ver dwaal, vat dit weg. As jy ongemaklik voel en wil stop, sê my. Ek is in jou hande.”
Sy knik haar kop en vat inisiatief om sy kop nader te trek vir ’n soen. Bliksem, hierdie vrou weet nie wat sy aan hom doen nie! Haar hande is oral op sy bors en arms en hy stut homself so dat sy die toegang het na wat sy verlang. Hy probeer seker maak sy is gewoond aan hom voor hy sy eie verkenningstog begin waarna hy so smag. Hy sis deur sy tande toe sy liggies met haar naels oor sy rugspiere trek en eis weer haar mond op. Sy hand skuif onder haar toppie in en hy sprei sy hand gretig oor haar plat maag en heupe.
Sy kreun toe hy die soen verbreek om sy kop in haar nek te druk en haar sagte vel daar te soen en proe. Stadig, sonder om haar te laat skrik, vou hy sy hand oor haar bors. Die materiaal is van kant en haar bors pas perfek in sy hand. Hy beweeg oor na haar ander bors en dit is haar beurt om deur haar tande te sis.”
Liham Vermaak, ’n suksesvolle entrepreneur, se streng reëls en koue houding keer dat ’n vrou deel word van sy lewe. Tot Landrie in sy lewe instap.
Landrie wil die wêreld gaan sien en nie gering geskat word as ’n ernstige besigheidsvrou nie. Al maak Liham dit hoe moeilik, gaan sy haar nie laat afgeskrik nie. Maar haar behoefte om hom te leer liefkry word groter as haar droom om die sakewêreld te verower.
Gaan hulle ’n plek in mekaar se harte kan vind?