Listen Up!

 

LAPA Uitgewers is op soek na bydraes vir unieke, oorspronklike en treffende idees of dagstukkies vir gebruik in skole, saalopeninge en klaskamers. Hierdie bydraes kan in Afrikaans of Engels wees, en ons soek voorleggings vir beide laerskool- en hoërskoolstudente – en onderwysers!

Waarvoor is dit?

LAPA Uitgewers wil jou graag uitnooi om saam met ons te werk aan die samestelling van twee opwindende nuwe boeke vir onderwysers en skole, getiteld Listen up! The assembly book every teacher needs. Daar is een vir die laerskool en een vir die hoërskool en die teks sal in ’n kombinasie van Engels en Afrikaans wees. Ons doelwit met hierdie boeke is om vir onderwysers ’n waardevolle hulpbron te gee wat hulle kan gebruik tydens saalopeninge, sportsbyeenkomste, klasopening en enige ander geleentheid om met die leerders te praat, asook om aanmoediging en ondersteuning aan die onderwysers self te verskaf.

Ons verstaan maar al te goed hoe moeilik dit is om vandag ’n onderwyser in Suid-Afrika te wees, en ons verstaan die ongelooflike hoeveelheid druk en stres wat jy van alle kante af ervaar. Ons weet ook dat onderwysers vir hulle leerders omgee en hulle wil ondersteun waar ook al hulle kan, terwyl hulle dikwels swaar en moeilike onderwerpe soos verlies, boelies, trauma, geestesgesondheid en meer in die gesig staar. LAPA se doelwit met ons opvoedkundige boeke is nog altyd om onderwysers te ondersteun waar ons kan, en hierdie twee nuwe boeke is dan ook so bedoel. Nie alleen wil ons jou toerus met die nodige hulpbronne om hierdie tipe moeilike onderwerpe in ’n toeganklike en betekenisvolle manier te behandel nie, maar ons wil ook aan onderwysers self ondersteuning verskaf.

Om dit te doen, het ons eers jou hulp nodig. Ons benodig unieke, oorspronklike en treffende idees en dagstukkies vir skole, saalopeninge en onderwysers en daarom vra ons skrywers en skole om vir ons hulle bydrae te stuur.

Waarna is ons op soek?

Jou bydra moet die volgende wees:

  • Oorspronklik: iets wat jy self geskryf of geskep het
  • Uniek: iets wat nie al dikwels vantevore gedoen is nie
  • Treffend: iets wat regtig ’n reaksie sal veroorsaak; of dit nou motiverend, ondersteunend of humoristies is
  • Prakties en realisties vir gebruik in skole

Watter formaat kan die bydra wees?

Jou voorlegging kan, onder andere, een van die volgende formate wees:

  • ’n Dagstukkie (nie geestelik nie)
  • ’n Storie om te lees/vertel
  • ’n Ouderdomsgepaste aktiwiteit om met die leerlinge te doen
  • ’n Kort toneelstuk (skit) deur die onderwysers of prefekte

Vir wie is dit?

Terwyl hierdie bydrae meestal op leerlinge van, onderskeidelik, laerskool- en hoërskoolouderdom gemik is, is ons ook op soek na addisionele hulpbronne vir onderwysers wat hulle kan ondersteun. Byvoorbeeld, ’n dagstukkie wat in die personeelkamer voorgelees kan word: of dit nou ’n inspirerende stukkie is om gemoedere te lig tydens eksamentyd en merktyd, of ’n humoristiese gids vir hoe om moeilike ouers te hanteer.

Temas om te oorweeg:

  • Emosionele welstand en geestesgesondheid
  • Morele waardes
  • Die skool se pilare
  • Trauma (byvoorbeeld die afsterwe van ’n leerling, of ’n aanval by die skool)
  • Kontemporêre sosiale kwessies (soos kuberboelies en sosiale media)
  • Inspirerend en motiverend (byvoorbeeld vir eksamens, sport, kuns en kultuur gebeure, ens)

Lengte

Daar is geen spesifieke voorskrifte oor aantal woorde nie omdat ons juis op soek is na ’n verskeidenheid lengtes vir verskillende geleenthede.

Vir elke relevante bydra wil ons graag een weergawe hê wat lank genoeg is vir saalopening, en dan ’n korter, meer praktiese weergawe wat ’n klasonderwyser kan gebruik tydens registerperiode in die oggende.

Beloning

Elke skrywer van ’n voorlegging wat gekies word vir publikasie sal R350 kontant kry. Die skrywer en/of skool se naam sal saam met die stukkie in die boek gepubliseer word.

Voorleggingsinligting

  • Alle voorleggings en bydraes moet elektronies voorgelê word, in Word- of PDF-formaat, voor of teen 1 Julie 2023.
  • Jy kan so veel stukkies voorlê as wat jy wil, en daar is geen woordlimiet nie.

Verskaf asb die volgende inligting in jou voorlegging:

  • Vir watter kategorie jou stukkie is: laerskool, hoërskool of personeelkamer
  • ’n Kort paragrafie oor jou as skrywer of onderwyser
  • Die naam van die skool waaraan jy verbonde is (indien van toepassing)

Vir enige navrae of voorleggings, kontak:

An-Mari do Carmo

Senior redakteur: Kinder-, tiener- en jongvolwasseneboeke

adocarmo@penguinrandomhouse.co.za