LAPA fiksie Manuskripvoorleggings

Het jy ’n boek geskryf wat jy graag aan ons wil voorlê? Pleks daarvan om jou hele manuskrip vir ons te stuur, stuur asseblief eerder ’n boekvoorstel deur die volgende stappe te volg:

  1. Skryf jou boekvoorstel volgens die onderstaande riglyne.
  2. Stuur jou boekvoorstel asook die eerste drie hoofstukke van jou manuskrip na fiction@penguinrandomhouse.co.za.

As ons op grond van jou voorstel jou manuskrip vir publikasie wil oorweeg, sal ons jou manuskrip aanvra. Maak asseblief seker jy stuur jou voorstel in onderstaande formaat en moenie enige afdelings uitlaat nie. Voorstelle wat nié in hierdie formaat gestuur word nie, sal nie oorweeg word nie.

Weens die hoë aantal boekvoorstelle wat ons ontvang, kan ons ongelukkig nie individueel op elkeen antwoord nie. As jy nie binne agt weke van ons hoor nie, kan jy jou voorlegging as onsuksesvol beskou.

Let asseblief op die volgende:

    • Ons gee Afrikaanse en Engelse romans uit wat in die Suid-Afrikaanse mark sal verkoop. Oorspronklikheid, hoë gehalte skryfwerk en markaanklank is dus onontbeerlik.
    • Ons gee nie digbundels of kortverhale uit nie.
    • Manuskripte moet tussen 60 000 en 100 000 woorde lank wees.
    • Indien Kunsmatige Intelligensie (AI) gebruik is om die manuskrip of bykomende materiaal te skep, moet die uitgewer daaroor ingelig word en die manier waarop dit gebruik is moet volledig beskryf word.
  •  

 

’n Boekvoorstel bestaan uit die volgende:

Titel van die boek (Wat sal jy jou boek noem?)

Voorbeeld: Tamara

Genre (Is jou boek ’n spanningsverhaal, ’n liefdesverhaal, historiese fiksie, literêre fiksie of iets anders?)

Voorbeeld: Historiese fiksie met ’n liefdesverhaal

Teikenmark (Wie gaan hierdie boek koop?) 

Voorbeeld: Afrikaanse vroue wat lief is vir liefdesverhale, historiese fiksie en algemene Afrikaanse fiksie.

Soortgelyke boeke in die mark (Met watter boeke kan jou boek vergelyk word? In watter afdeling van die boekwinkel sal jou boek staan?) 

Voorbeeld: Na ’n plaas in Afrika / Historiese fiksie.

Mini-biografie van die skrywer (Hoe sal jy jouself in ’n paragraaf opsom vir die agterblad van die boek? Vermeld asseblief of jy ’n debuutskrywer is.) 

Voorbeeld: Chanette Paul is 'n gewilde skrywer van liefdesverhale en speurverhale met ’n romantiese inslag. Paul word onder die belangrikste Afrikaanse skrywers van misdaadfiksie gereken. Sy het al 45 romans geskryf en het ’n meestersgraad in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde. Sy woon tans in 'n klein huis op die oewer van die Kleine Rivier in die Overberg.

Loksin (Watter sin sal jy op die omslag van jou boek skryf wat dit in een treffende sin opsom?)

Voorbeeld: ’n Oorlog, bitterheid en ’n heilige belofte staan in die weg van hul liefde...

Lokteks (Hoe sal jy jou verhaal in ’n paar paragrawe op die agterblad van die boek opsom om die leser aan te moedig om die boek te koop?)

Voorbeeld:

Hul liefde vir mekaar skrei teen God en mens.

Joshua Davel is Tamara se halfbroer, Groot Dawid se oudste. Maar Tamara wéét – hulle hoort saam, so was dit van die skepping af bedoel. Al stry Joshua ook hoe daarteen. Al soek hulle vir haar man. Tweede beste sal nooit goed genoeg wees nie.

Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, bly Tamara alleen op die plaas agter. Maar die vraaag bly spook: Is Joshua Groot Dawid se bloedseun? Ma Saar weet van sy geboorte, maar sy mag nie praat nie...

Wat word van haar liefde as die oorlog die antwoord insluk? As Groot Dawid dit nie oorleef nie? En waar is Ma Saar?

Sinopsis (Hoe sal jy jou hele verhaal in minder as een bladsy opsom? Sluit asseblief die belangrikste wendings, ontknopings en die slot in.)

 

Algemene Vrae

  1. Kan ek ’n boekvoorstel voorlê op grond van ’n idee wat ek vir ’n boek het, al het ek nog nie die boek geskryf nie?

Nee. Ons oorweeg alleenlik boekvoorstelle van manuskripte wat reeds geskryf is. Ons kan nie ’n idee vir ’n boek goedkeur nie.

  1. Hoe lank is ’n boek?

’n Roman is gewoonlik tussen 60 000 en 100 000 woorde lank. Ons oorweeg nie manuskripte wat korter of langer as hierdie voorskrif is nie.

  1. Kan ek in enige genre skryf?

Ja, maar jou kans om uitgegee te word is hoër as jou verhaal in ’n spesifieke en gewilde genre soos byvoorbeeld spanningsfiksie, misdaadfiksie, romantiese fiksie of historiese fiksie val. Hoe kleiner en minder algemeen die genre, hoe kleiner jou kans om uitgegee te word.

  1. Ek is Afrikaans. Moet ek eerder in Engels skryf om ’n groter gehoor te bereik?

Nee. Skryf in die taal waarin jy die beste skryf. Onthou, plaaslike Engelse boeke ding mee met internasionale Engelse boeke. ’n Engelse manuskrip gaan nie jou gehoor vergroot of jou kans op sukses verhoog nie.   

  1. Kan ek ’n digbundel of ’n kortverhaalbundel voorlê?

In dié stadium oorweeg ons nie digbundels of kortverhaalbundels nie.

  1. Ek wil ’n boek skryf, maar ek weet nie waar om te begin nie. Kan ek ’n afspraak met een van jul uitgewers maak om raad te kry?

As jy wil leer hoe om ’n boek te skryf of jou skryfvaardighede wil verbeter, beveel ons aan dat jy eerder vir slypskole en/of kursusse in kreatiewe skryfwerk inskryf.

 

Enige ander navrae kan gestuur word aan: fiction@penguinrandomhouse.co.za