“Jy lyk ongelooflik. Sensueel. Ek het nie eens besef daar skuil so ’n ongelooflike figuur onder daardie onooglike slaaphemp wat jy gisteraand aangehad het nie.”
Sy wip haarself regop. “Wat bedoel jy met onooglik?!”
“Trust me. ’n Xtra large, verlepte ou hemp met ’n teddiebeertjie op het nog geen man lus gemaak vir enigiets nie.”
“O, regtig. Is dit so? Vir iemand wie glo afgesit was deur ’n teddiebeerhemp, was jy gisteraand taamlik voor op die wa en vol idees.”
Hy lag. Trek haar nog nader. “Ek het nie gesê ek was nie aangetrokke nie. Ek was net nie bewus van al jou versteekte bates nie. Om die waarheid te sê, vir jou sal ek begeer al dra jy ’n goiingsak.”
In ‘n flitsmoment vind sy lippe haar mond. Sy soen deurdring haar, sy lyf stoot haar agtertoe, nader, al hoe nader aan die aantrekhokkie se muur wat sy met ’n slag tref. Haar oë vlieg oop. Daar is sy en hy in die spieëls. Oor en oor word hulle herhaal. Dit. Is. ’n. Publieke. Plek.
Dié woorde refrein saam met die spieëlbeelde in haar kop. Sy druk hom weg, maar hy pen haar arms bo haar kop vas teen die muur.
“Jy gaan nêrens nie.”
Andrea is min lus vir haar skoolreünie, tot sy hoor Stiaan Smith gaan beslis daar wees. Hy het haar hart gebreek toe hy haar ná universiteit vir ’n ander vrou gelos het.
Die saak is uitgemaak: Sy gaan Kaap toe vlieg vir die reünie. Daar gaan
sy Stiaan se hart uit sy borskas pluk, dit braai en afsluk saam met ’n goeie glas rooiwyn. Dit is nou wel jammer sy het nie ’n metgesel nie, maar nou ja.
Die noodlot het egter ander planne.