Elaine vlug weg van haar verloofde, Alex, sonder enige verduideliking.
Haar geheim bly haar eie want sy glo as Alex ooit moet uitvind sal dit sy
lewe ruïneer, en daarvoor het sy hom té lief. Sy het geen keuse as om Ben
van Staden, die rykmanseun van Bloemfontein, se aanbod te aanvaar nie ...
Die jare wat volg is verwonde jare gevul met vrees en verwyt. Elaine
verloor haar geloof in ’n liefdevolle God en dit is net haar ongesonde verhouding
met wyn wat haar help om soms van al die seer in haar binneste te
vergeet. Maar haar liefde vir Alex bly ’n brandende vuur wat nie geblus kan
word nie.
Skielik, ná soveel jaar, staan Alex weer voor haar en begin sy weer glo dat
God dalk alles tog ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet. Maar,
sal Alex haar ooit kan vergewe vir die onreg wat sy hom aangedoen het?