Tien jaar na sy dood, word Tolla van der Merwe steeds onthou vir sy stories, sy unieke taal, sy humor in Afrikaans, maar meer dalk nog deur die wat hom geken het vir sy aardsheid, sy menslikheid, vir hoe hy ander op soveel vlakke aangeraak en onvoorwaardelik van homself gegee het. Maar wat het Tolla so spesiaal gemaak? Na amper vyf jaar se werk aan hierdie boek, voel die skrywer sy het nog nie die volle antwoord nie. Ek bly verwonderd oor volwasse mans met wie ek onderhoude gevoer het wat vier, vyf jaar na Tolla se dood steeds oor hom gerou en openlik oor hom gehuil het. 'n Tekort aan feite oor Tolla is daar nie. Die vraag was hoe om sy storie te vertel. Hierdie boek wou enersyds nie net 'n loftuiting of 'n huldeblyk wees nie. En andersyds sou 'n blote opeenstapeling van feite, dalk met 'n sensasionele sousie hier en daar, ook nie reg aan Tolla laat geskied nie. Eerder is dit 'n beeld van Tolla gee soos hy was: van sy bitter en soet oomblikke, sy vreugde en pyn, verlies en liefde, sy hegte bande met sy plek en sy mense, sy swakhede en deugde, en uiteindelik sy pad met God: die volledige mens. Die draad wat regdeur sy lewe geloop het is die van Tolla die gewer, die een wat uitdeel - nie net tasbare goed nie, maar ook van homself, om die lewe 'n beter plek te maak. Dalk verduidelik juis dat die gevoel van groot verlies toe hy skielik nie meer daar was nie.