Romanza Manuskripvoorleggings

ALGEMEEN

Manuskripte se woordtelling moet tussen 40 000 – 43 000 woorde wees. Stuur slegs die eerste drie hoofstukke van jou manuskrip en sluit die volgende in:

  • ’n Dekbrief met jou kontakbesonderhede (naam, van, e-posadres, telefoon nommer en die titel van jou manuskrip).
  • ’n Sinopsis (opsomming) van 100-300 woorde oor die manuskrip wat jy voorlê.
  • ’n Kort biografie van die skrywer.
  • Stuur enige navrae aan romanzaredakteur@penguinrandomhouse.co.za

Indien jy nie jou manuskrip kan e-pos nie, kan jy dit pos aan: 

The Estuaries No 4 
Century Avenue 
Oxbow Crescent 
Century City 
Cape Town 
7441

Ons versoek skrywers vriendelik om nie ’n manuskrip aan ’n ander uitgewery voor te lê terwyl dit by ROMANZA onder oorweging is nie.

ROMANZA ontvang baie manuskripte en keuring kan tot ses maande duur. Jy sal ’n e-pos ontvang waarin ons ontvangs van jou manuskrip erken.

Uitgewers is onder geen verpligting om kommentaar op ’n manuskrip te lewer of redes vir die afkeuring daarvan te verstrek nie.


STUUR JOU MANUSKRIP IN DIE VOLGENDE FORMAAT:

  • Getik.
  • Dubbelspasiëring.
  • In ’n maklik leesbare lettertipe (12 pt Times New Roman of Arial).
  • Slegs aan een kant gedruk (indien ’n fisiese kopie ingedien word) 
  • Breë kantruimtes (margins) om aantekeninge te maak (2 cm is voldoende).
  • Hoofstukke is gewoonlik 3 tot 4 bladsye lank.
  • Manuskripte moet nie gebind wees nie.
  • Onthou om bladsye te nommer.

ROMANZA het die volgende sub-genres wat ons oorweeg vir publikasie:

  • Modern 
  • Plaas romanses>
  • Reis
  • Medies
  • Histories
  • Fantasie
  • Inspirasie
  • Erotika

WENKE VIR NUWE SKRYWERS

  • Indien jy vir ROMANZA wil skryf, moet jy ROMANZA lees. Oeroue raad, ons weet, maar die ROMANZA -leser is intelligent en belese. Sy lees elke maand verskeie romanses en duld dus nie flou verhale of vervelige karakters nie. Sy ken die genre, onthou die stories, ontdek graag nuwe subkategorieë (soos mediese-, plaas-, fantasie of inspirerende romanses). Sy is lojaal aan die ROMANZA -handelsmerk. 
  • Indien jy nie in die magiese krag van die liefde glo nie, of sinies is oor dinge soos elektrisiteit tussen karakters en liefde met die eerste oogopslag, moet jy liefs nie ʼn ROMANZA aanpak nie. 
  • Kortom: ken jou genre, moenie na-aap nie en skryf vars, nuwe verhale.

WAARVAN HOU ONS?

Onvergeetlike karakters

Ons wil verlief raak op die held en heldin. Hulle is onafhanklik, sterk en genuanseerd. Hulle maak foute (perfekte karakters is so vervelig!), is weerloos en dwaal dalk van die spoor af. Hulle kan snaaks, vreemd, uitheems, heilsaam, sout van die aarde, slim, verstrooid, gebroke, skaam, wulps of wys wees. Hulle het integriteit. Hulle is nie rassisties, seksisties, chauvinisties, neerhalend, afkrakend of boelies nie. En hulle wag beslis nie om gered te word nie; hulle neem beheer van hulle eie geluk.


Konflik

Konflik skep stories. Wanneer alles goedgaan en almal gelukkig is, is lesers verveeld. Waar is die aksie, die spanning? Konflik beteken nie dat jou karakters die hele tyd moet argumenteer nie; dit is veel meer as woordewisselings en misverstande. Fokus op interne konflik. Laat jou karakter sukkel met besluite, morele kwessies, onsekerhede. Eksterne konflik skep bloot die geleentheid vir meer interne konflik.


Motivering

Wat is die een ding wat jou karakter met sy of haar hele hart begeer? Waarom is dit so belangrik? Wat verhoed jou karakter om dit te kry, en tot watter uiterstes sal hy of sy gaan om dit te kry? Hierdie vrae help jou om 'n sterk intrige te skep.


Dialoog

Die manier waarop jou karakter praat, gee lewe aan die verhaal. Wanneer ons jou storie hardop voorlees, moet die dialoog geloofwaardig klink. ʼn Jong heldin sal nie woorde gebruik soos "eweneens" nie, net soos 'n plaasboer dalk nie so gemaklik sal wees met "fantasmagories" nie.


Emosies

Lees is ʼn emosionele belewenis. Ons wil saam met die heldin voel en ervaar. Moenie bloot vertel dat sy hartseer of gelukkig is nie. Wys vir ons haar emosies: Hoe tree sy op, wat gebeur met haar lyf, wat dink sy? Laat jou leser self afleidings maak oor wat sy voel uit hoe sy optree. 


Liefdestonele

Ons hou van liefdestonele. Natuurlik doen ons! Ons hou van onderliggende seksuele spanning, die vonke tussen karakters. Ons hou van die belofte of suggestie van aksie tussen die lakens. Ons hou van warm vrytonele en smaakvolle seks – mits albei karakters gewillig is. Maar die fokus is altyd op die heldin se emosionele belewenis daarvan. Goeie sekstonele vra dat jy sintuiglik en emosioneel skryf. Verlei ons. 


Geloofbaarheid

Romanses balanseer fantasie en werklikheid. Alles in jou verhaal moet werklik voel en werklik kan gebeur. Goed, ons gaan dalk nie sommer halsoorkop verlief raak op die ski-instrukteur by Tiffindell in die Drakensberge nie, maar bloot omdat ons nie ski nie. En nog nooit daar was nie. Wanneer ons die dag wel soontoe gaan ... 


Bekende en eksotiese ruimtes

Dit maak nie saak of jy ʼn bekende dorp of plek kies, of jou verhaal in Santorini laat afspeel nie, ons wil die plek kan voel en hoor en ruik en proe.  Beskryf genoeg van jou ruimte sodat dit lewend raak. (As ons ná die lees van jou storie wil plaas toe trek bloot omdat die held daar woon, het jy ons oortuig).


Voorleggings wat jou erns reflekteer 

ʼn Voorlegging wat goed taalversorg is, wys vir ons jy respekteer jou skryfwerk en jou storie. 


Skrywers wat groei 

Ons publiseer minstens 48 Romanzas in ʼn jaar, plus ons e-rotika en spesiale uitgawes. Ons kies die heel beste manuskripte. Daarom hou ons van skrywers wat die genre verstaan en saam met ROMANZA groei en ontwikkel. Ons hou van nuwe stemme, vars idees, uitdagende karakters. Ons hou van skrywers wat bereid is om te leer. Die AWS, HAT en 'n goeie verklarende- en tweetalige woordeboek behoort jy byderhand te hou. Maar kyk gerus ook na boeke soos The Emotion Thesaurus van Angela Ackerman en Becca Puglisi, Rivet Your Readers With Deep Point of View van Jill Elizabeth Nelson, en Liz Fielding's Little Book of Writing Romance.