Sy’s ’n Boeremeisie, hy’s ’n Jood. ’n Boerejood, ja, maar nogtans ’n Jood. Vir hulle liefde is daar geen toekoms nie. Die Jode, wéét Elizabeth, is ’n ander dam se eende. Terwyl hulle jonk is, dink hulle nie aan die toekoms nie, leef hulle vir die nou, glo hulle die verskille kan oorkom word. En Izak Katz, weet Elizabeth, maak altyd ’n plan. Áltyd. Hy, met sy lag, sy terg, die sagtheid in sy oë. Die paadjie wat aan hulle toebedeel is, is ongelyk. Soos die middelmannetjie in die drif. Hulle weet van mekaar vermy, van voorgee sodat niemand iets vermoed nie. Van wag. Én van liefhê … Totdat Elizabeth gedwing word om ’n doodsbedbelofte te maak. En sy weet, sy wéét, hierdie keer is dit verby, nie eens Izak sal nou meer raad hê nie.