Kinder-, Tiener- en Jongvolwasseliteratuur

LAPA Uitgewers en Penguin Random House Suid-Afrika aanvaar manuskripvoorleggings vir kinder-, tiener- en jongvolwassefiksie en -niefiksie in beide Afrikaans en Engels.


  1. Slegs elektroniese voorleggings word aanvaar. 
  2. Omdat LAPA en Penguin Random House Suid-Afrika baie manuskripte ontvang, kan dit tot ses maande neem om ’n keuring af te handel en oor publikasie te besluit.
  3. Uitgewers is onder geen verpligting om kommentaar op ’n manuskrip te lewer of redes vir die afkeuring daarvan te verstrek nie.
  4. Skrywers moet asseblief nie ’n manuskrip aan ’n ander uitgewery voorlê terwyl dit by LAPA of Penguin Random House Suid-Afrika onder oorweging is nie.
  5. LAPA en Penguin Random House Suid-Afrika aanvaar geen aanspreeklikheid vir materiaal wat verlore gaan nie. Dit is dus raadsaam om nooit oorspronklike illustrasies of ander oorspronklike grafiese materiaal by ’n voorlegging in te sluit nie.
  6. Skrywers hoef nie illustrasies te voorsien nie. Die uitgewery sal self ’n illustreerder aanwys en vergoed indien ’n manuskrip vir publikasie aanvaar word.

Stuur jou voorlegging aan kinderboeke@lapa.co.za en maak seker dit bevat die volgende inligting:

  • Jou naam en van
  • Jou kontakbesonderhede
  • Die titel en woordtelling van die manuskrip
  • ’n Kort opsomming van die manuskrip en ’n beskrywing van die teikenmark
  • ’n Kort biografie van die skrywer met relevante publikasieagtergrond
  • Die manuskrip in Word-formaat

Riglyne by ouderdomsgroepe: Daar is geen voorgeskrewe lengte/woordtelling vir verskillende ouderdomsgroepe nie en ons maak ook geen aanbevelings in hierdie verband nie.

Die indeling van ouderdomsgroepe is nie in beton gegiet nie, maar in die algemeen word daar tussen die volgende onderskei:


  • Bababoeke (0-3 jaar): Duursame kartonboekies, of interaktiewe boeke met byvoorbeeld skwiekers, legkaarte, vat-en-voel-insetsels, of opblaas-badboekies. Omdat dit baie duur is om te produseer, word oorsese boeke vertaal en in koproduksie met groot oorsese uitgewerye uitgegee. Voorleggings in hierdie kategorie word dus ongelukkig nie ingewag nie.
  • Prenteboeke (3-5 jaar): Die teks is min en eenvoudig, met volkleur-illustrasies wat help om die storie te vertel. Hou in gedagte dat ’n standaardformaat-prenteboek gewoonlik 32 bladsye beslaan. ’n Prenteboekteks moet dus genoeg om die lyf hê om sinvol in hierdie formaat te kan uitgee. Voorbeelde: Prinses Pampoenpit (Bianca Flanders en Zinelda McDonald) en Moenie die knoppie druk nie (Jaco Jacobs en Chris Venter).
  • Eerste leesboeke (5-7 jaar): Die teks is min en die taalgebruik eenvoudig, met volkleur-illustrasies wat help om die storie te vertel. Hierdie boeke is gemik op lesers wat pas self leer lees. Voorbeelde: Die Tippie-reeks (José en Reinette Palmer) of die Z is vir Zackie-reeks (Jaco Jacobs).
  • Beginnerleesboeke (7-9 jaar): Kort, eenvoudige stories wat gewoonlik met volop illustrasies aangevul word. Die fokus is dikwels op prettige, opwindende en humoristiese storielyne. Voorbeelde: Die Lea lief -reeks (Cecilia Steyn), Ouma Mollie en die Mensvreter (Fanie Viljoen), en die Professor Fungus -reeks (Jaco Jacobs).
  • Boeke vir intermediêre lesers (9-12 jaar): Humor, grilstories en avontuurverhale is onder meer gewild by hierdie ouderdomsgroep. Boeke het meestal swart-en-wit-illustrasies of soms geen illustrasies nie. Voorbeelde: Die Stalmaats-reeks (Lize Roux), Monsterrugby en Vampierhokkie (Fanie Viljoen)
  • Jeugboeke vir jonger tieners: (12-15 jaar): Boeke vir hierdie ouderdomsgroep handel oor kwessies wat eie is aan die teikenmark se leefwêreld of tot tieners van hierdie ouderdom spreek. Voorbeelde: Die Thomas@-reeks (Carina Diedericks-Hugo), Losprys in Parys (Nerine Ahlers), Die ses weke van Thomas & Ella (Zelda Bezuidenhout)
  • Jongvolwassefiksie (15-18 jaar): Lesers van hierdie ouderdom lees dikwels reeds boeke vir volwassenes, maar boeke vir hierdie ouderdomsgroep handel gewoonlik oor karakters van ’n ooreenstemmende ouderdom as die teikengroep. Voorbeelde: Offers vir die vlieë (Fanie Viljoen), Elikser (Frenette van Wyk), Wolk (Hannes Barnard)

Nota: Illustreerders is welkom om ’n portefeulje met voorbeelde van hul werk elektronies aan te stuur. Belowende portefeuljes sal op lêer gehou en geraadpleeg word wanneer illustreerprojekte opduik, maar ons kan ongelukkig nie terugvoering oor illustrasievoorleggings verskaf nie. Moet asseblief nie oorspronklike kunswerke stuur nie – LAPA en Penguin Random House Suid-Afrika aanvaar geen aanspreeklikheid vir materiaal wat verlore raak nie.