SOEK IN NUUS

Proestukkie uit 'My ster jou ster'

Gepos op ...
Proestukkie uit 'My ster jou ster'

My ster jou ster - deur Malene Breytenbach 

 

“Tatiana, ontmoet Igor Radonowski,” stel Madame hom voor. “Die enigste mens wat ek sal toelaat om my so onbeskof te onderbreek. Igor, hierdie jong dame is Tatiana Barnard, ’n Suid-Afrikaanse sopraan wat hier in Milaan die rol van Gilda moet oorneem en nou oefen ons verwoed.”

 

Hy steek ’n groot hand uit wat Tatiana s’n omvou. Die aanraking skok haar behoorlik. Sy kyk op in sy swart oë onder donker wenkbroue. “Dit is vir my ’n groot eer om die groot Russiese bariton te ontmoet, meneer Radonowski.”

 

Hy glimlag. “Die eer is myne. Jy toon ongetwyfeld groot belofte, anders het madame Rolandi jou nie onderrig nie.” Hemel, hy is nog so sjarmant ook dat dit haar voete onder haar uitslaan. Groot operasterre is gewoonlik geneig om meerderwaardig te wees en hulle nie juis aan die opkomendes te steur nie. Nou kan hy egter nie anders nie, want dis net sy, madame Rolandi en die pianis in die vertrek.

 

Hy draai weg na madame Rolandi. “Ek kon darem betyds kom vir vanmiddag se kleedrepetisie. As jy nie te besig is nie, kom kyk gerus en gee kritiek. Ek het nog nie met die sopraan saamgesing nie. Sy is ’n Amerikaner wat by die Met gesing het.” Hy vertel in watter saal dit gaan wees.

 

Hy kyk na Tatiana. “Jy kan ook kom as jy lus het.”

“O, ja, graag.” Hemel, vir wat klink sy nou so oorhoops! Maar sy wil regtig gaan kyk en dit is so vleiend dat hy haar persoonlik genooi het.

“Ons sal kom,” sê madame Rolandi. “Ek sien jou vanaand vir ’n laat aandete. Ons moet inhaal.”

“Absoluut.” Hy grinnik vir haar, vir Tatiana, en loop uit.

Die deur is al agter hom toe, maar Tatiana staar nog oorbluf daarna.

“Toe, toe,” lag madame Rolandi. “Ek weet hy is oorweldigend, maar kom terug aarde toe. Hy is ’n baie mooi man en ’n wêreldklas sanger, maar hy loop nie rond nie en hy is getroud met ’n mede-operaster.”

 

Tatiana se gesig brand soos sy bloos. “Ek . . . dis die eerste keer dat ek hom ontmoet.” Sy kug en staan reg om weer die aria te sing.

Maar haar balans is totaal versteur.

“Hy het daar by die ateljee ingekom en my en madame Rolandi na die kleedrepetisie genooi,” vertel Tatiana opgewonde vir haar agent, Yvette Marshall, wat haar sake by die operahuis reël. “Wil jy saamkom?”

“Hoe kan ek dit mis?” spot Yvette. “Ek is mos gek oor daardie man. Ek vind die meeste operasangers te vet of plein lelik, maar hy is die absolute uitsondering. En kan hy sing! Sjoe. Ek het verskeie van sy opnames.”

 

’n Uur later haas hulle hulle na die groot konsertsaal. Madame Rolandi staan reeds voor die deur en gesels met mense.

“Hier is ons ook,” sê Tatiana.

“Nou toe,” sê madame Rolandi. “Ons het spesiale plekke heel voor.”

 

Hulle loop in die gang op tussen die rye deur. Die orkes is besig om op te warm. Heel voor, in die middel, gaan sit madame Rolandi en hulle neem langs haar plaas.

 

“Watter rol sing ons Russiese ster?” vra Yvette. “Hy is Don Giovanni, natuurlik,” sê madame Rolandi. “Die beste waarvan ek weet en ek het al baie Don Govanni’s gehoor en afgerig.”

 

Die gordyn gaan oop. Daar is karakters in kostuums van eeue terug, die vroue in kleurvolle lang rokke. Tatiana luister gemesmeriseer. Sy geniet die verhaal van die verleier met die baie vroue op sy kerfstok en dink dat as iemand ooit werklik ’n reeks vroue sou kon verlei, is dit Igor Radonowski.

Gaan terug

OOR LAPA

LAPA is ’n akroniem vir Lees Afrikaans, Praat Afrikaans. 


Ons publiseer hoofsaaklik Afrikaanse boeke, maar gee sommige titels ook in Engels uit.


Bekostigbare boeke vir elke ouderdomsgroep en smaak is LAPA se doelwit.

 

Lees verder...

KONTAK ONS

KANTOORURE:
 08:00 – 16:00 (Maandae tot Vrydae)

PRETORIA: 
Bosmanstraat 380, Pretoria
 012 401 0700
 086 720 1583
 lapa@lapa.co.za

 

Lees verder...

ATKV Logo