SOEK IN NUUS

Proestukkie uit 'Liefdeskrale'

Gepos op ...
Proestukkie uit 'Liefdeskrale'

Proestukkie uit ‘Liefdeskrale

 

’n Tweede keer wil Esté van verbasing stik. “Nee! Nee, natuurlik is ek nie. Ek het nog nooit eens jou pa ontmoet nie. Ek is hier vir ’n onderhoud.” Luke lyk skepties, asof hy nie weet of hy haar kan glo nie. “Is jy getroud?” “Nee.” “Dis nogal jammer, want daardie krokodilvrou sal nie toelaat dat hy iemand ongetroud aanstel nie.

 

Ou Saartjie sê dat sy geen kompetisie duld nie. Sy sê ook dat my pa se geld die krokodilvrou aantrek soos ... soos ’n magneet ou pennies nadertrek. Ek verstaan dit nie mooi nie. Dalk ... het hy ’n magneet in sy broeksak of iets.” Esté is te bang om te vra wie die sogenaamde krokodilvrou is en terselfdertyd wonder sy waar sy ma is.

 

Sy lei af dat die oppasser, Saartjie, ’n baie groot rol in sy lewe speel. Die seun draai sy kop skuins en stoot sy rolstoel dan vinnig in die rigting van die ander vertrek. “Wag, ek beter spore maak. As daardie heks my hier kry, is ek in die moeilikheid.” Esté is half jammer dat hy weggaan en wonder terselfdertyd van wie hy praat. Toe sy opkyk, staan die ouerige vrou weer in die deur. “Kom saam,” sê sy kortaf. Esté loop gedwee agterna.

 

Die vrou wend nie eens ’n poging aan om vriendelik te wees nie. Sy klop aan ’n deur en stoot dit oop. “Jy kan maar ingaan.” Esté haal diep asem en stap die vertrek binne. Die studeerkamer is baie groot en die boekrakke aan haar linkerkant strek van die vloer tot by die dak. Die skuifdeur is oopgestoot en sy het ’n vinnige blik op die swembad. Toe kyk sy na die man wat agter die groot lessenaar opstaan en haar hart wil gaan staan. Haar vrees was nie ongegrond nie. Die lang man met die breë skouers wat om die lessenaar stap en sy hand na haar uitsteek, is dieselfde javel wat haar van die fiets laat afval het. Paniek stoot in haar keel op en sy vat sy hand werktuiglik.

 

Daar is egter nie herkenning in sy bruin oë nie. “Schalk Brink. Sit gerus.” Toe frons hy en kyk stip na haar. “Ken ons mekaar? Jy lyk bekend. Het ons mekaar dalk iewers al ontmoet?” Esté skud haar kop, sy vertrou nie haar stem nie. Hy skud ook sy kop asof hy dit nie kan glo nie, maar dan sê hy saaklik: “Jy herinner my seker maar net aan iemand anders wat ek ken. Kan ek jou voorstel aan juffrou Sonja Putter, my administratiewe bestuurder.” Nou eers sien Esté die rooikopvrou wat voor die ander venster staan.

 

Sy is deftig aangetrek en haar klere word duidelik nie in kettingwinkels gekoop nie. Maar die oomblik toe sy Sonja se krokodilleerskoene sien, weet sy dat dit Luke se krokodilvrou is. Sy kyk weer na Sonja se gesig en hou nie van wat sy sien nie. Hoewel haar gelaatstrekke foutloos is, is haar babablou oë koud en hooghartig.

 

Esté skat haar baie naby dertig, maar sy kan verkeerd wees. Haar grimering is met ’n swaar hand aangewend en vroue doen dit dikwels as hulle hul ware ouderdom wil wegsteek.

 

Toe Sonja haar uitgestrekte hand neem, is dit ’n baie kortstondige handdruk. Esté is onmiddellik opgeruk. Sy is nie gewoond daaraan dat mense op haar neersien nie. Sy het miskien nie nóú ’n sent op haar naam nie, maar sy is eintlik ’n baie welaf jongmeisie en sy voel lus om dit vir die hooghartige ou ... krokodilvroumens te sê.

Gaan terug

OOR LAPA

LAPA is ’n akroniem vir Lees Afrikaans, Praat Afrikaans. 


Ons publiseer hoofsaaklik Afrikaanse boeke, maar gee sommige titels ook in Engels uit.


Bekostigbare boeke vir elke ouderdomsgroep en smaak is LAPA se doelwit.

 

Lees verder...

KONTAK ONS

WINKELURE:
 08:00 – 16:00 (Maandae tot Vrydae)

PRETORIA: 
Bosmanstraat 380, Pretoria
 012 401 0700
 086 720 1583
 lapa@lapa.co.za

 

Lees verder...

ATKV Logo